Du Plessis het sy pen op die pols.Du Plessis, Hans. 2004. Splinters: 'n keur uit rubrieke. Pretoria: LAPA Uitgewers. 128 p. Prys: R69,95. ISBN: 0 7993 3322 0. As skrywer is Hans du Plessis veral bekend vir Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte en die jeugverhale Bakgat, en wat dan van my en Dis 'n flippen stukkende wereld die, my ou. Hy is egter ook 'n baie produktiewe en bedrewe rubriekskrywer. Hiervan is Splinters (2004)--'n samestelling van 63 rubrieke wat die afgelope twintig jaar hoofsaaklik in die Potchefstroom Herald, maar ook in ander koerante en tydskrifte, verskyn het--'n goeie illustrasie. Met did keur bevind Du Plessis hom in die geselskap van skrywers soos onder andere Riana Scheepers, Nataniel, Andre Leroux, Etienne van Heerden en Etienne Britz, van wie daar die afgelope jaar of wat ook rubriekversamelings verskyn het. Deur middel van hierdie versamelings word rubriekskrywers se werk, wat tot 'n groot mate tot 'n spesifieke tydskrif of koerant beperk is, aan 'n groter leespubliek bekendgestel. By 'n beoordeling van die bydraes in Splinters is dit belangrik om die oorspronklike teikengehoor daarvan in gedagte te hou. Hierdie rubrieke is nie in die eerste plek bedoel as filosofiese essays of diepsinnige literere besprekings nie. Du Plessis sny eerder 'n verskeidenheid onderwerpe aan waarmee die meeste lesers hulle kan vereenselwig. Daar is 'n welkome gebrek aan pretensie en grootdoenerigheid, wat egter nie impliseer dat hierdie bydraes nie tot nadenke stem of 'n debat ontketen nie. Wat veral opval, is Du Plessis se vermoe om op 'n besoncler bondige manier (koerant- en tydskrifrubrieke laat helaas nie veel ruimte toe nie) en in verstaanbare Afrikaans alledaagse, maar ook meer komplekse en kontensieuse vraagstukke aan te raak. Aan die hand van praktiese voorbeelde dink hy byvoorbeeld na oor abstrakte begrippe soos aanvaarding, (on)verdraagsaamheid, vryheid, versoening, konsiderasie, ensovoorts. Hy huiwer ook nie om omstrede onderwerpe soos kwotastelsels in sport, verandering van plekname, taalregte, xenofobie en grondhervorming onder die loep te neem nie. Hoewel sy eie voor- en afkeure dikwels duidelik blyk, weeg hy meestal meer as een kant van 'n saak op, met die gevolg dat sy menings weldeurdag en gebalanseerd is. Du Plessis maak as rubriekskrywer van 'n groot verskeidenheid retoriese strategiee gebruik. Soms het die splinters 'n skerp snykant, soos in "Dood vir 'n selfoon" en "Grondhervorming". Soms loop die skrywer 'n gemoedelike draai voordat hy vriendelik vermaan ("Sonder geskenke", "Die Pase"), minder vriendelik en selfs 'n bietjie pedanties betig ("Engels, Engels, alles Engels!") of 'n onverwagse uitklophou plant ("Bedelaar", "Klein steel is ook steel"). Ander kere gebruik hy humor om die leser van sy standpunt te oortuig: vanaf 'n simpatieke, goedige glimlag in "Om te vloek of nie te vloek nie" en "Die kwartjie" tot by lag met 'n angel, soos in "Bisarre basare", "Nog 'n vloeken troue" en "Behave those backstiens". Of hy span 'n verhaal in om die praat- en oorredingswerk namens hom te doen. In "Elsa vat die koek" en "Viva Afrikaans!", gewis twee hoogtepunte in die bundel, lewer die verhaal telkens treffende, maar subtiele kommentaar op die skynheiligheid van mense en hul dubbele standaarde. Maar die skrywer skryf ook oor homself: oor sy eie vreugdes en frustrasies; byna altyd met 'n deeglike skeut selfspot en selde op so 'n wyse dat daar verval word in 'n diskoers wat s6 persoonlik is dat 'n mens meer van die skrywer leer ken as van die saak wat bespreek word--'n aspek waarteen N.P. van Wyk Louw waarsku in sy opstel oor die sogenaamde "oop gesprek". Splinters verruim in 'n sekere sin Louw se omskrywing van die "oop gesprek", aangesien Du Plessis daarin oor homself vertel, maar aan die hand van die persoonlike vertellings ook "oor iets in ons almal se wereld" (aldus Louw) verslag doen. In "Om nooit oud te word nie ...", "Reisrubriek", "Onthou jy nog?" en "Eerste ontmoeting" word die private ache byvoorbeeld gebruik om uiteindelik kommentaar te lewer op die menslike toestand, met die gevolg dat die bydraes telkens 'n universele betekenis verkry. Aangesien die rubrieke in Splinters 'n periode van ongeveer twintig jaar dek, skep sommiges 'n effens gedateerde indruk. Dit is egter opvallend dat die oorgrote meerderheid bydraes steeds aktueel is--'n aanduiding daarvan dat hoe meer dinge hier ter plaatse verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Tog is dit jammer dat daar nie vermeld word waar en wanneer 'n rubriek oorspronklik verskyn het nie. Sodoende sou 'n bepaalde ontwikkelingsgang in die bundel aangetoon kon word. Of jy nou van Du Plessis verskil of dit roerend met hom eens is, een ding is gewis: 'n man wat so met woorde kan werk, mag sy se maar met groot vrymoedigheid se! Resensent: Thys Human Departement Afrikaans, Universiteit van Johannesburg |
|
||||||||||||||||||

Printer friendly
Cite/link
Email
Feedback
Reader Opinion