Digterlike transponering van 'n andersoortige denkwereld.Walters, M.M. 2003. Shih-Ching Liedereboek. Pretoria : Protea Boekhuis. 126 pp. Prys: R89.95. ISBN 1-86919-041-6. In sy bundel Sprekende van God wat in 1996 verskyn het, skryf M.M. Waiters in die laaste strofe van die gedig "Oor die sekerheid" (p. 61) soos volg: Onseker bly ons soek waar en hoe die siel is-- ons wat skepties geword het en wil sien maar bly hoop dat die end nie end is nie, Die leser van Waiters se poesie word meegeneem op die soort intellektuele verkennings wat daarop reken dat die pad verder gaan en verrassende wendings kan neem. So was die verskyning van die filosofies besinnende bundel Sprekende van God na sy vier satiriese bundels (Cabala 1967, Apocrypha 1969, Heimdall 1974 en Saturae 1979). Met die publikasie van sy jongste digbundel, Liedereboek (2003), bevestig Waiters dat die moontlikhede van terra incognita vir hom oop bly. Terwyl hy enersyds in sy voorwoord tot die bundel aandui dat dit "'n idee gee van die aard van die Chinese poesie" asook "die betrokke digters se ingesteldheid teenoor hulle werk", stel hy dit ook onomwonde dat dit as 'n inleidende verkenning gelees moet word. 'n Volledige oorsig van die Chinese poesie moet, volgens Walters, nog geskryf word. Dit sou 'n bedrewe sinoloog verg. Die bundel vra dus nie om in die eerste plek beoordeel te word as vertaling nie. Dit is 'n omdigting van die Chinese poesie uit Engelse en Duitse vertalings. In die Liedereboek gaan dit om 'n digterlike aanvoeling vir 'n andersoortige denkwereld en die transponering daarvan in 'n nuwe sleutel en milieu, maar met behoud van iets van die oorspronklike aard daarvan. In 'n insiggewende gesprek met T.T. Cloete (Gesprekke met skrywers 1, 1971) het Waiters reeds sy aangetrokkenheid tot die Oosterse leefwereld aangedui. Spore van Walters se betrokkenheid by die Chinese letterkunde le ook in die publikasie van Die lewensweg van Lao Tse (1988) deur Martin Versfeld. Die publikasie het verskyn in 'n reeks Poesie uit verre lande, wat onder redaksie van Walters gestaan het. Versfeld het, soos Walters, die bekendstelling in Afrikaans onderneem sonder kennis van Chinees. Walters se Chinese Liedereboek is 'n welkome aanvulling tot hierdie publikasie. Die inleidende aantekeninge laat geen twyfel oor die waarde en betekenis van 'n ontsluiting van hierdie bron van geestesrykdom nie. Alhoewel die Chinese letterkunde nie die oudste in die wereld is nie, het dit wel die langste geskiedenis van enige letterkunde wat in 'n enkele taal geskryf is. Dit het vir millennia werk van intellektuele en artistieke waarde opgelewer. Soveel poesie is geskryf dat die keiserlike biblioteek in 25 n.C. reeds 11 332 boekdele bevat het. 'n Versameling van gedigte uit die tydperk 618-906 wat in 1707 gemaak is, bevat ongeveer 1 100 kleiner versamelings van omtrent net soveel digters. Die oorspronklike Shih-Ching bestaan uit 311 gedigte wat waarskynlik byeengebring is deur Confucius en bestaan uit vier dele: volksliedere, lofgedigte, liedere ter ere van die voorvaders en offergedigte. Die beste gedigte is gekies uit 'n Ryksversameling van liriese gedigte wat in die 6de eeu v.C. reeds uit 3 000 gedigte bestaan het. Dit vorm die basis van die Chinese letterkunde en geestelike ontwikkeling. Die hoe aansien van poesie in die Chinese kultuur hang saam met 'n bepaalde opvatting van die mag van skryf (writing). Skriftekens en natuurlike patrone word gesien as parallelle manifestasies van die kosmiese beginsel (Dao). Hieruit vloei voort dat indien poesie deurdrenk is met gevoel, dit invloed kan uitoefen op die sosio-politieke sowel as die kosmiese orde. Dit is om hierdie rede nie vreemd nie dat 'n digter se aansien (en bestaan) in die Chinese samelewing, met uitsondering van enkeles, afhanklik is van 'n amptelike posisie in die staatsdiens. Walters verwerk 96 gedigte uit die Shih-Ching. Sy indeling van gedigte onder die naam van die verskillende digters met melding van die tydperke waarin hulle geleef het, neem die leser op 'n voelvlug deur hierdie omvangryke poesieskat. Gedigte dateer vanaf 'n anonieme drinklied uit ongeveer die 12de eeu v.C. tot die gedigte van eietydse vernuwers wat, veelseggend, bewustelik ook terugreik na primitiewe en durende Chinese emosies. Al word die leser gewys op die beperktheid van die kennismaking, slaag Walters daarin om opnuut tuis te bring dat die menslike gees 'n soeker is met eindelose horisonne. In die vreemdste tye en plekke gebeur daar egter ook die verrassende en verligtende oomblikke van herkenning. 'n Gedig wat, met gebruikmaking van deursigtige Afrikaans, as voorbeeld hiervan kan dien, is "Na die geveg" (p. 91), geskryf deur 'n haas onbekende digter, Tai Fu-ku uit die jaar 1167: Die klein perskeboompies sonder baas blom op hul eie. Bo die woesteny van rokerige gras, maak rawe nes vir die nag. Hier en daar omring gebroke mure nog ou waterputte--eens was dit die woonplek van mense. Die basiese estetika ten grondslag van hierdie poesie is dat suggestie belangriker is as uitleg, minder verkieslik bo meer. In watter mate Walters hieraan laat reg geskied, blyk by wyse van voorbeeld uit die gedig "Aan: 'Die Fortuinverteller'" (p. 92) van Liu K'o-chuang (1187-1269): Elke blomblaar is so lig soos 'n skoenlappervlerk, elke spikkel bloedrooi en fyn. As jy se dat God nie omgee vir die blomme nie, dink dan aan die honderde soorte, duisende varieteite, almal kunstig gefatsoeneer. In die more sien jy die boomtoppe, groen en welig, in die aand die toppe van die takke, gestroop en kaal. As jy se dat God werklik omgee vir die blomme, dink dan aan die deurdrenking van die reen, die skroeiwond van die wind. Met hierdie bundel word 'n venster oopgemaak op 'n omvangryke geesteslandskap wat nie onontgin gelaat kan word nie. Resensent: A. S. Robinson (Durbanville) |
|
||||||||||||||||||||

Printer friendly
Cite/link
Email
Feedback
Reader Opinion