Die sintuiglike meelewing van die oog en die oor.Viljoen, Hein. 2003. holtrom en groot kabaal. Pretoria : Protea Boekhuis. 84 p. Prys: R79.95. ISBN 1-86919-005-X. Met die titel holtrom en groot kabaal stel Viljoen die leser in op die geluidmatige. Soos met sy debuutbundel, Waterkristal, twintig jaar gelede waar die klem onder andere op die visuele waarneming geval het, is die instem op die sintuiglike meelewing van die oog en oor dit wat Viljoen digterlik wil verwoord in hierdie bundel. Dit is veral die bundeltitel wat die gehoorsintuig "hoer (laat) juig" (72), maar saam met die oog 'n sintuiglike meelewing daarstel. Die gedig "huwelik" (13) stel in besonder die saambestaan van die ouditiewe en visuele waarneming voorop: tydens die oorbekende moet julle hoor hoe heilig seremonie 'n vlaag wind met sy eie hand lug blaas deur 'n orrelpyp neern jy onverwags en dis of die kerse helderder brand wat skuif voor die venster weg verklaar julle regtens 'n duif 'n wolk plotseling weggetrek lig ligter as lig heerlike ligtelaaie Die klankkomposisie in 'n gedig is een van die woordvakman se besondere tegnieke om digterlike taal te laat opklink. Dit is juis die klankbeskrywende woorde asook die opvallendheid van klinkende woorde wat vir die digter die wonder word soos dit in "ars poetica" (17) geskryf staan: hy kan net fluister-fluister 'n muis wat in opdrifsels ritsel skuifel hy wil 'n huiwering in die hartklop registreer sy argelose sonnettuig snelslalom plutomaan dat sterreboe onhoorsaam opspat galaksweg deur Met hierdie gedig bevestig Viljoen die instrumente van die digter om nie alleen in klankbeskrywende woorde nie, maar ook deur die "snelslalom" van alliterasie en die assonansie van klanke te skep. Saamklinkend met "ars poetica" is die belangrike gedig "klankburp" (51) waarin die digter as "hol pot" gemetaforiseer word en die titel as spil van hol trom en groot kabaal op woord- en klankterrein geeggo word: ek is leeg en hol pot waarin vuur en stank van hierdie swart land kolk en gis klok waarin brons stemme metaalagtig galm rat-ta-ta-tat-tatta blonk bly my valk een meens an stam s-skultenreg-s-stelling dawer tot die laaste trilling tongklepel stilte stamel Met die talle eksplosiewe klanke, sintaktiese oorlope en spasiewit dreun die "blurb" van klank tot na die lees van die gedig. So klink die geluide op in die "holste van die nag/ in die stilste stilte" (40). Dit dan veral die afwesigheid van iemand of iets wat deur en in klank vir die digter betekenis kry. In afdeling 2 is die digter se instrument om te salf teen verdriet en verlies deur "die loodsware troos van woorde", want, se die digter: "ek het vir jou net woorde woorde" (34). Bepaald is dit die digter se woorde wat kan poog om die vervlietendheid van die mens se bestaan in verse te bestendig. In besonder slaag die digter daarin om bestendigheid daar te stel deur woord- en sintaktiese herhalings. Vergelyk die herhaling van "liggroen vaalgroen donkergroen/so groen soos donderstorms"; "die seer aanhou skaaf/aanhou troetel die leegte in die hart/die hart se smart van 'n lee hart" (30), "bach bach" (72), "te min tyd te min tyd te min te min" (33), "woorde woorde" (34), "ek gaan na jou toe na jou toe" en die reduplikasies soos "draf-draf" (53) asook "dansdans" (76). Oplaas kan hierdie tegniek ontaard in 'n bewustelike truuk en die doel daarvan op die lange duur in die bundel mis, aangesien dit te frekwent voorkom. Herhaling kom ook nie alleen op struktuurvlak voor nie, maar klink ook op in ander digterstemme. Hoor die leser dalk uit T.T. Cloete se "Huis snags" (Jukstaposisie) die weerklink in Viljoen se "huisgeluid" (40); Tom Gouws se "grotargeoloog" (troglodiet) in "klankburb" (51) se "tongklepel stilte stamel" en J.H. Leopold se "Om mijn oud woonhuis peppels staan" (30) in "voor my huis drie akkerbome staan" (30) en selfs CIoete se "In ons tuin staan vyf/jong borne jong olyf" (Angelliera)? Die weerklink van "Die eland" van Wilma Stockenstrom in "die wonder" (24) en Totius se "Vergewe en vergeet" (58) is as parodiee manklopend langs die (m)oertekste. Om Totius in moderne idioom te laat praat, is nie werklik oortuigend nie. Die rympatroon word nie enduit volgehou nie en die gemaaktheid van die gedig sal nie sy naamgenoot gelyk kan doen nie. Dit is ook in besonder die nadoen van Cloete se sintaktiese spasiewit as pouseringstegniek wat in Viljoen se gedigte "onherroeplik cliche" (14) word. Viljoen genereer samehang tussen gedigte wat musiek, kleur- en ligbeelde, liefde vir en voorstellings van die vrou en 'n refleksie op die spreker se identiteit as "zuid-afrikaan" (70) as tema bevat--helaas in laasgenoemde verse wat "net stereotipe en cliche" (82) voorstel en nie dieper delf en beskryf as oppervlakkige spanninge in die waarnemer se bestaanskyk nie. Gedigte wat veral deur die keurderspen geskrap kon word, is "die armes" (53), "ballade van die vallende rand " (55), "kantoormasjien" (57) "Vergewe en vergeet" (58). Is die ligte vloek wat oor die Nederlanders uitgespreek word in die reisopmerkings "altyd op pad erens heen" (63), "afskyt van mieke en maatjies" (68) en "die digter maak hom 'n poephol op schiphol" (79) geslaag as poesie? Wat die leser na die lees van hierdie bundel oorhou en sal onthou, is 'n handvol tonale gedigte wat sal nadreun in die hol trom, maar die groot kabaal van sekeres sal snel tot 'n klein tingel weg-eggo. Marthinus Beukes (Dept. Afrikaans, Randse Afrikaanse Universiteit) |
|
||||||||||||||||||

Printer friendly
Cite/link
Email
Feedback
Reader Opinion