Printer Friendly
The Free Library
4,287,467 articles and books
Member login
User name  
Password 
 
Join us Forgot password?

Die gebare en idiome van die sterwendes.


Dit is Maandagoggend. Alies gebeur op 'n Maandagoggend. Ons verwag my bejaarde ouers vir 'n kuier. Ek wag hulle op die stoep van ons huis in.

Toe ek my Ma omhels, se sy vir my: "Ek gaan nie weer jou huis verlaat nie," en sy huil.

Ek verstaan nie haar opmerking nie en ek verstaan nie waarom sy huil nie. Agterna weet ek nie hoekom ek haar nie daaroor uitgevra het nie.

"Dis gaaf," probeer ek troos. "Ons pleit mos al lankal dat julle by ons op die dorp moet kom woon, naby die apteke en dokters."

Twee dae later, Woensdagoggend, kry sy 'n swaar hartaanval in ons huis. Niemand van ons het so iets verwag nie, want sy was gesond ten spyte van haar bejaardheid.

Ons pas haar die hele dag goed op, want die geneesheer voorspel die ergste. Daardie aand gaan my vrou en my vermoeide Pa teen middernag slaap. Ek belowe om by my Ma te waak.

Sy vra dat ek langs haar op die bed moet le. Sy soebat aanhoudend dat ek nie aan die slaap moet raak nie. Ek stel haar elke keer gerus dat ek wakker sal bly.

Ek gaan haal Eugene Matais se Die leeus van Magoeba, wat ek laas in my kinderdae gelees het. Ek gaan le langs my Ma. Ek lees by die bedlampie, maar dis vir my moeilik om te le en lees. Ek vorder stadig, want ek onderbreek my lees kort-kort om na my Ma se gelaatskleur te kyk. Sy is bleek, maar die oorlelle, die neuspunt en lippe is blou.

Dit val my op dat my Ma aaanhoudend aan die bolaken pluk, aanhoudend, aanhoudend. Haar vingers is nooit stil nie. Hulle fladder soos vlinders bo 'n blom, se ek vir myself. Partykeer soek haar hande in die lug voor haar na iets, sy strek hulle voor haar uit asof sy gordyne wil ooptrek, wat nie daar is nie; maar wat my die sterkste opval, is die hande wat aan die bolaken bly pluk, anhoudend bly pluk.

Teen vieruur daardie nag se my Ma: "Nou gaan ek deur diep waters." Ek hoor dit kom uit Jesaja 43:2, maar dit laat my gedagtes ook terugspring na Eugene Marais, en ek vra my af of my Ma weet van Marais se "Diep rivier" of "Donker stroom".

Toe die dag breek, se my Ma: "Trek oop die gordyne, dat die lig kan inkom." Ek weet watter Lig sy bedoel.

Met sonsopkoms vra sy om regop te sit. Sy sterf in my vrou se arms.

Toe begryp ek dat sy haar eie dood voorspel het, twee dae voor haar totaal onverwagse hartaanval; Maandagoggend toe ek haar op die stoep omhels het en sy ai huilende gese het sy gaan my huis nooit weer verlaat nie. Toe was sy nog gesond.

Daardie hele dag loop ek en dink oor die misterie van die dood. Dat 'n mens jou eie dood kan voorsien of voorspel terwyl jy nog niks makeer nie.

Later in my lewe, baie jare later, het ek gesien, in twee gevalle, dat mense hulle naderende dood uitstel, of vertraag, hoe sal ek dit noem, omdat hulle wag op die koms van 'n geliefde voor hulle bereid is om te sterf.

Die een geval was my vrou se suster, Nella, wat daar diep in die Kalahari gewoon het, en toe sy sterwende was, het sy laat weet dat sy op my vrou wag. Nella het in vrede gesterf net nadat my vrou haar besoek het.

Die tweede geval was my vrou, Anna, self. Anna was jare lank baie ernstig siek, maar toe sy begin weet sy gaan binnekort sterf, het sy gewag op ons kinders wat uit Bangkok moes kom. Die ander kinders was naby.

Daardie hartseeraand na my Ma die oggend oorlede is, sit ek en Anna in my werkkamer en ons lees, om ons te verstrooi. Ek lees verder in Die leeus van Magoeba. Ek het verlede nag gevorder tot by die begin van "5. Die boom in die middel van die tuin".

Ek trek naderhand by verhaal "6. Die wit uil", wat skynbaar deels op werklike gebeure, deels op loutere fantasie berus. Dit is die verhaal van die geheimsinnige alleenloperboer Jan Hendrik van Vuuren op die pragtige plaas Diepkloof in die wyk Swartrand. Hy is baie emstig siek en het 'n dokter dringend nodig. 'n Buurman, Coen, gaan haal die dokter ...

Marais het self dokter gespeel in hierdie geval, raai ek.

Toe die dokter en Coen op die sieke se plaas aankom, is daar reeds buurmense wat hulp kom aanbied, "volgens die gewoonte van ons volk", skryf Marais. Onder andere is daar "'n ou tante". Sy staan by die deur om die dokter en Coen te ontvang. Die siek boer is toe reeds in 'n ligte koma.

Ek lees verder in Marais se storie van die sterwende boer en kom af op 'n paragraaf wat my stom verbaas. Eerder moet ek se, dit het 'n ligte skrik of skok deur my gestuur ... hierdie aand, omtrent presies twaalf uur na my Ma se dood vanoggend, kom ek af op Marais se beskrywing van die handgebare van die sterwende boer:
   Sy [die ou tante] vra ons om binne te kom met die woorde: 'Hy is op
   die laaste, dokter, hy pluk gedurig aan die dekens'. 'Snaakse ou
   bygeloof', fluister Coen aan my ... Ek herinner my dat die gedagte
   my te binne geskiet het hoe dikwels die praktiese waarnemings van
   ons oumense ... as 'bygeloof' deur die nuwe geslag bespot word. Min
   het Coen geweet dat die pluk aan die deken deur die wetenskap erken
   word as 'n verskriklike voorteken van die naderende dood, en dat
   dit in die moderne geneeskunde onder 'n Latynse sin bekend staan.


Ek is dronkgeslaan. Ek gee Die leeus van Magoeba vir Anna wat langs my sit en lees. "Lees hier," se ek vir haar, en ek wys vir haar Marais se beskrywing van die sterwende se handgebare, die pluk aan die laken of deken.

"Merkwaardig dat ek nou vanaand in Marais se verhaal moet lees party sterwendes pluk aan die deken of laken," se ek vir Anna. "Toe ek vannag die hele nag gesien het Ma pluk die bolaken aanhoudend met haar onrustige vingers, met haar hande wat soos vlinders bo 'n blom fladder, het ek nie geweet wat dit beteken nie. Vannag het ek gedink dit is maar sommer net."

Wat my verstom, se ek vir my vrou, is dat dinge op so 'n vreemde, onverklaarbare, magiese manier by mekaar uitkom. Hoekom moes ek verlede nag by die sterfbed van my Ma onder alie denkbare boeke juis Marais se Die leeus van Magoeba kies om te lees, en hoekom moes ek net vorder tot by "5. Die boom in die middel van die tuin", hoekom moes ek eers vanaand, ongeveer twaalf uur na my Ma se dood, afkom op hierdie sinne in "6. Die wit uil" oor die sterwende se pluk aan die deken, dit wat ek verlede nag by my sterwende Ma gesien het entoe nie verstaan het nie? Hoe gebeur so 'n vreemde sameloop van die dinge?

Twee jaar later gaan Anna en ek Nederland toe. Soos in ons studentedae in Amsterdam gaan kuier ons vir Jan van de Graaf in Sliedrecht, aan die Merwede.

Een agtermiddag gaan wandel ons langs die Merwede. Jan het baie belang gestel in Marais. Ons gesels oor Marais wat dit so goed reggekry het om die grense tussen feit en fiksie af te breek. Ek vertei vir Jan van die pluk aan die laken wat ek by my sterwende Ma gesien het en wat ek die aand daarna eers verstaan het toe ek verder lees in Die leeus van Magoeba.

O, se Jan, in sy buurt is die verskynsel dat die sterwende aan die laken pluk bekend onder die mense, en hulle het selfs 'n uitdrukking daarvoor. Hulle se van die sterwendes wat aan die lakens pluk "hulle maak hulle pakkie op". Dit wat vir my gelyk het na vlinders wat fladder bo 'n blom.

Terug in Suid-Afrika gesels ek een aand met "ons oumense" soos Marais hulle noem, oor die verskynsel van die lakenplukkery by sterwendes. Party se hulle ken die verskynsel, lemand in die geselskap se vir my die Afrikaanse beskrywing daarvoor lui bietjie anders as die Nederlandse. Hy ken die uitdrukking: "hy pak sy tassie", of "sy pak haar tassie" as die sterwende aan die lakens begin pluk.

Ek het daardie rustelose vingers en hande wat aanhoudend aan die lakens pluk daarna ook gesien by my sterwende skoonmoeder, daardie vlinders bo 'n blom, en daaraan gedink dat Louis Trigardt in Opperman se Voelvry vir sy vrou Martha kort voor haar dood 'n belladonnakelk wys ... met sy baie betekenisse: Bella as vroulike naam; donna wat dame, mevrou, nooi beteken; belladonna wat samevattend "mooi dame" beteken; en die kelk wat die vroulike geslagsorgaan kan simboliseer; belladonna wat as medisyne gebruik word, as pleister of smeergoed, en waarvan atropine en ander verdowingsmiddele gemaak word ... en dan ook belladonna wat die naam vir 'n mooi en geurige, maar dodelike gifblom is.

Die dood word mettertyd vir my ai meer en meer 'n misterie. Vier jaar na my gesprek met Jan van de Graaf, wat my bewus gemaak het van die uitdrukking "pakkie opmaak" of "tassie pak" as die sterwende aan die lakens pluk, op 'n Saterdag, bel my suster Lenie my en se ek moet dadelik Standertonhospitaal toe gaan, ons hoogbejaarde Pa is daar opgeneem en dit gaan nie met hom goed nie. Ek haas my daarheen. My broer en twee susters is reeds daar.

Sondagaand besoek ons my Pa weer. Hy is nogal buitengewoon opgewek en se glimlaggend dat ons heeltemal te vroeg gekom het, dit gaan met hom goed.

Ons groet hom aan die einde van besoektyd en stap uit. In die gang van die hospitaal vra Lenie om verskoning dat sy my onnodig so ver laat kom het.

"Dit was nie onnodig nie," se ek, "en ook nie voortydig nie. Ons Pa is sterwende. Ek het hom gegroet met die wete dat ek hom nie weer sal sien nie."

Die ander drie steek in hulle spore vas en vra geskok hoe ek so iets kan beweer.

"Het julle gesien hy pluk aanhoudend aan die bolaken?" vra ek. Dit het hulle nie opgeval nie, want hulle het die verskynsel nie geken nie.

Maandagoggend vroeg bring die dagpersoneel van die hospitaal ons Pa se ontbyt en kry hom dood in sy bed. Hy is rustig en ontspanne in sy slaap oorlede.

Drie-en-dertig jaar later toon my Anna die eerste tekens van 'n ernstige siekte. Sy gaan oor 'n tydperk van vyf jaar geleidelik agteruit en sterf op 'n Woensdagnag, kort voor middernag. Soos my Ma sterf sy op 'n Woensdagnag.

Die Maandagoggend voor haar sterwe se Anna in haar ylende toestand dat sy wil opstaan. Ek weet dat sy erg deurmekaar en verswak is en dat dit vir haar onmoontlik is em op te staan, maar ek probeer om redelik met haar te praat.

"Waarom wil jy opstaan?" vra ek haar.

"Ek wil my tas pak," antwoord sy ylende, met 'n vreemde, aandoenlik smekende stem. "Ek gaan Krugerwildtuin toe."

Ek is geskok en kan my ore nie glo nie: sy wil "tas pak" ... daardie spreekwoordelike, metaforiese tas wat die sterwendes pak ... daardie kollektiewe taal, daardie gemeenskaplike idiomatiek wat die ylende sterwendes praat, korrek, asof hulle by hulle volle verstand is.

Skielik onthou ek dat Jorik in Joernaal van Jorik aan die einde van sy lewe ook sy koffertjie pak.

Die twee kinders uit Bangkok is teen hierdie tyd reeds by ons. Ek ontbied die ander kinders onmiddellik. Ek weet nou seker dat die Anna met die mooi, diep blou oe wat haar tas wil pak binnekort gaan sterf. Daardie oe gaan binnekort breek.

Bietje later daardie Maandagoggend se sy, steeds ylende: "Ek sal julle se as ek vertrek." Dis om onbedaarlik van te huil.

Dit is die laaste ding wat sy gese het. Daarna het sy ophou praat.

Tot in ons sterwe is daar plek vir die pynlike ironie: Anna wil Krugerwildtuin toe gaan ... Sy was baie lief vir die Krugerwildtuin, sy het egter nooit alleen soontoe gegaan nie, ons het altyd saamgegaan, maar nou praat sy oor 'n besoek aan die Krugerwildtuin asof sy alleen wil gaan.

Dalk onthou sy in haar laaste oomblikke Van Melle se Oom Karel neem sy geweer saam; daardie verhaal wat sy goed ken, van 'n man met sy voorstelling van die hiernamaals as 'n veld met diere en plante, daardie dinge in die skepping wat miljoene jare voor die mens daar was, en as ons in Adriaan Roland Holst se taal mag praat, die diere en plante was nader as die mens aan die voortydse ewigheid reeds daar ...

Party skrywers is savante. Marais was een. Van Melle was 'n ander een.

Anna se diep, helder blou oe is teen die Woensdagmiddag reeds gebreek.

Vroeg daardie aand kom 'n nog diepere skrik: sy begin aan die bolaken pluk, aanhoudend, met dun benige bleek vingers wat nooit stil is nie en soos vlinders bo 'n mooi blom fladder. Bo 'n mooi, maar dodelike belladonnakelk.

Nou weet ons dood-doodseker, sy is nou in die laaste van vier fases:

Een: tas pak.

Twee: praat van vertrek ... vertrek op 'n reis, deur of oor waters, deur Marais se "Diep rivier" of "Donker stroom", deur die Ou-Testamentiese Joodse waters, oor die Grieke se Styx, wegraak soos Jorik in waters ... of Krugerwildtuin toe gaan. Hoe aandoenlik en hartseer ironies.

Drie: die pluk aan die laken.

Dan word die vlinderende hande plotseling stil, kort voor middernag.

Vier: sterf.

Die sterwensfases volg mekaar op asof in 'n patroon, of plan, of Plan. Dis 'n soort logika om van te huil.

Anna het gesterf in 'n rustige laaste kwartier. Sy het vertrek, en 'n serene liggaam nagelaat, soos 'n voel wegvlieg en 'n lee nes nalaat, soos 'n vlinder haar kokon verlaat.

Die dood, wat Marais so geboei het, Marais wat my oe die aand na my Ma se dood oopgemaak het vir 'n merkwaardige verskynsel ... dat ons, die mense, tot teen ons dood in 'n bopersoonlike idiomatiek praat, ons praat tot in ons laaste, ylende oomblikke in kollektiewe metafore en simbole, en as ons ophou praat, maak ons 'n soort gemeenskaplike gebaar met die hande en vingers.

Ons praat en gestikuleer op 'n manier wat aan ons almal behoort, ons, die mense in transito ...

En dan daardie vreemde en onverklaarbare sameloop van dinge.

Die dood, daardie mysterium tremendum, daardie blom met die geur van 'n belladonnakelk.
COPYRIGHT 2007 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2007 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

 Reader Opinion

Title:

Comment:



 

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Kortverhaal
Author:Cloete, T.T.
Publication:Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies
Article Type:Poem
Date:Aug 1, 2007
Words:2426
Previous Article:Die oujongnooi-speurder.(Vertalings)(Poem)

Terms of use | Copyright © 2008 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters | Submit articles