Printer Friendly
The Free Library
4,487,561 articles and books
Member login
User name  
Password 
 
Join us Forgot password?

Die Afrikaanse poesie sedert die 1980's ondenkbaar sonder Hambidge.


Hambidge, Joan. 2004. Die buigsaamheid van verdriet. Pretoria: Protea Boekhuis. 187 p. Prys: R120,00. ISBN: 1-86919-068-8.

Joan Hambidge is in die Afrikaanse literatuur as digter, romanskrywer, letterkundige, akademikus en polemikus bekend, en het die wereld van die akademie en skeppende skryfwerk bevrugtend op mekaar laat inwerk. Met haar eerste bydraes in die boekeblaaie van koerante en in tydskrifte, en veral die publikasie van haar debuut-digbundel Hartskrif (1985), het sy die grondslag vir 'n omvangryke en geskakeerde oeuvre gele. Oor haar en haar werk is reeds baie geskryf, en sal waarskynlik nog baie geskryf word. Sy ontlok uiteenlopende en skerp menings.

Twee jaar voor haar vyftigste verjaardag, wat tradisioneel 'n literere "mylpaal" is, verskyn haar bundel Die buigsaamheid van verdriet. (Die titel is oorgeneem van die Nederlandse digter Hans Lodeizen.) Die keur bevat "'n honderd of wat gedigte" uit sestien van haar digbundels wat tussen 1985 en 2002 by ses uitgewers verskyn het. (Gedigte uit En skielik is dit aand (2005) word nie hierby ingesluit nie.) Waar 'n digter so 'n groot oeuvre het en sommige bundels gekenmerk word deur huile ongelyke gehalte (onvermydelik en volgens meerdere resensente), is so 'n keur gepas. Bowendien het Hambidge haar in haar keuse laat lei deur die menings van simpatieke en kundige lesers soos Johann de Lange, Henning Snyman en Lizbe Smuts. Hierdie keur bevat die wesenlike Hambidge.

As mededigter het ek Hambidge van die begin af as 'n digter met 'n nuwe stem ervaar, wat met veral die gay-tematiek tereg as 'n normdeurbreker beskou kan word. Ek het nog nooit haar poesie in 'n bespreking aangedurf nie, maar ongetwyfeld in my skryfwerk op haar werk gereageer, wat dalk die betekenisvolste resepsieverslag van een digter oor 'n ander kan wees. Hoe dit ook al sy, in die middel van die tagtigerjare was veral haar verwysings na 'n magdom skrywers, skilders, vermaaklikheidskunstenaars en ander openbare figure of haar gebruik van motto's uit huile werk vir my baie opvallend. In Die buigsaamheid van verdriet het ek digby 40 sulke name getel.

Tydens die skryf van my digbundel Palimpses (1987) het ek op Hambidge "geantwoord" deur op een na geen verwysing na skrywers of kunstenaarsfigure te maak nie. Later het ek my ook teenoor Hambidge geposisioneer, deur by voorkeur na wetenskaplike figure te verwys. Direkte verwysings is natuurlik nie al verwysing in die literere teks nie. Benewens motto's, opdragte en direkte verwysing is daar die indirekte of moeiliker aantoonbare aansluiting of "gesprekke", wat eweneens Hambidge se poesie kenmerk en help om dit 'n sterk postmodernistiese karakter te gee.

In die geheel gesien, skep die gedigte in Die buigsaamheid van verdriet met huile talle verwysings na die kunstenaarswereld 'n bepaalde sosio-kulturele karakter--'n nuwigheid in Afrikaans. Die digter self stel dit in die "Naskrif" dat haar gedigte tematies "hoofsaaklik handel oor reis, die liefde, eensaamheid, familieskap (letterlike en digterlike familie) en gedigte wat die skryfproses ontgin". Ten spyte van die gereelde gesprekke met onder andere T.T. Cloete, Johann de Lange, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman en A.G. Visser, het die sosio-kulturele sfeer in wese 'n wereld-karakter of -ideolek, waarby die digter se talle buitelandse reise aansluit. Bundels is selfs in die geheel tydens en/of na aanleiding van reise geskryf. Vir my was dit deurgaans opvallend dat Hambidge, behalwe in gedigte soos "New York", "Rome" en "El Condor Pasa", selde baie spesifieke ter plaatse beskrywings gee, soos wat kenmerkend van reisliteratuur is, al bevat baie van die gedigte aanduidings van die plek wat besoek is en presies wanneer dit was. Teen die agtergrond van 'n besoek aan "Puerto Montt" word aan die geliefde gedink ("Ek dink vanoggend aan jou ...", ensovoorts). Dit lyk dus of die digter nie in die eerste instansie outentieke voorstellings wil maak van die plekke wat sy besoek het nie.

Hambidge is oopgestel vir gebeure in die samelewing en betrek dikwels epogmakende gebeurtenisse, maar toon ook die bloot-gesteldheid van die mensdom wat as 't ware op dun ys loop. Voorbeelde hiervan is gedigte soos "Westdene", "Catch-22", "Versin-'n-bottel", "Aardbewing", "'Start spreading the news'" en "Foto: man wat val" oor onderskeidelik die Westdene-busramp waarin talle kinders gesterf het, die Helderberg-vliegramp, die aardbewing wat Tokyo gedurende die twintigerjare getref het en die 9/11-terreuraanslag op die Twin Towers in New York. (Hambidge se werk is weliswaar nie die beste barometer vir wat sedert die onstuimige tagtigerjare in die Suid-Afrikaanse samelewing en politiek gebeur het nie.)

In baie van hierdie gedigte word 'n epogmakende gebeurtenis as vertrekpunt vir 'n baie persoonlike gedig gebruik. Die gedig "Vers-in-'n-bottel" kan as voorbeeld dien:
   Lief, vanoggend wil ek
   vir jou 'n vers in 'n bottel
   stuur nes daardie Japannees
   aan boord van die Helderberg.
   "Ek sal jou nooit weer sien
   nie--dis die einde, onverwags.
   Weet net hiermee, as iemand
   die boodskap vind, van my liefde".
   Verbaasde perelvissers vind 'n bottel
   langs die strand en ontsyfer
   'n stil boodskap in pyn geskandeer
   oorspronklik net vir jou gestuur.


Die spreker in die gedig vereenselwig hom/haar met 'n "Japannees / aan boord van die Helderberg", wat deur middel van 'n boodskap/ "vers" vir oulaas die geliefde van sy/haar liefde wil verseker. Hierdie "stil boodskap in pyn geskandeer / oorspronklik net vir jou gestuur" beland egter in "[v]erbaasde perelvissers" se hande--die gedig oor liefde en persoonlike verlies beland dus in vreemde hande op soek na iets kosbaars. Dit word 'n andersoortige perel van groot en/of nul en gener waarde. Soos talle van Hambidge se gedigte, besin hierdie een oor die aard van die poesie en kan gebruik word om haar ars poetica te verstaan.

Vergelykbaar met die gedigte na aanleiding van epogmakende gebeurtenisse, is daar gedigte oor bekende figure soos Carson McCullers, Liza Minelli, Calvin Klein, Madame Rochas en Rock Hudson. Teenoor hierdie belangstelling in allerlei gekwelde (en/of afgestorwe) bekendes van oraloor is daar egter van haar eerste bundel af gedigte oor familiefigure, soos haar grootouers en ouers, wat haar werk 'n bepaalde outobiografiese karakter gee en bowendien vir van haar ontroerendste werk sorg (kyk "Nog net een maal", "By 'n portret van my Ouma", "My pa", "Pa" en "My ouers"). Dit is veral hierdie gedigte oor familiefigure wat J.C. Kannemeyer se beskuldiging in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 (2005) dat Hambidge se poesie "'n fasiele en futlose besigheid is" ha ontoereikende en moontlik bevooroordeelde lees laat lyk.

Wat voorts 'n besondere persoonlike karakter aan hierdie poesie gee, is die prominente plek van die liefde, die ontsporing daarvan en persoonlike verhoudings. Die poesie, hoewel ook sterk eroties (kyk "Soixante-neuf"), word op allerlei maniere as hulpmiddel gebruik om die verlies te verwerk. In "Finis" is die slotsom: "Jy se my af / maar in hierdie vers / het ek die laaste se." Taalspel en -beswering word in "Interne weerstand" a la J.C. Steyn in sy Die grammatika van liefhe (1975) vernuftig aangewend om verlies te verwoord:
   Lief, ek verbuig jou:
   my reelmatige werkwoord,
   in al jou vervoegings
   leer ek jou van buite ken.

   Soms verander jy,
   in 'n werkwoord onreelmatig,
   die verbuigings
   aan my onbekend: totaal.

   Die afstand tussen reel
   en toepassing so verwyder
   as tussen my en jou.


Die versvorm wat Hambidge vir haar gedigte kies, wissel van hoofsaaklik die vrye vers waarin sy bykans deurlopend gewone punktuasie en hoofletters gebruik tot tradisionele versvorme soos die haiku (kyk "Haiku"), kwatryn (kyk "Stilportret", "Pierrot" en "Bonatuurlik"), tanka (kyk "Tankas"), ballade (kyk "Ballade van die ontroue vers") en sonnet (kyk "Petrarca kom tot sy sinne", "Die skryfproses, as sonnet", "Horror vacui", "Vroegherfs", "Die skryfproses, nogmaals as sonnet" en "Herinnering"). Hierdie gedigte is meermale parodiee op of herskrywings van gedigte deur ander digters. Dit toon hoe belangrik die skryfhandeling en omgang met die literatuur vir haar is.

Hambidge het 'n gedugte oeuvre tot stand gebring. Voorts het sy talle vensters op die binne- en buitewereld oopgemaak, waarsonder die Afrikaanse poesie van die afgelope twee dekades ondenkbaar is. Hoewel haar oeuvre nie altyd op dieselfde vlak is nie, bevat dit talle winste wat haar bydrae tot die Afrikaanse poesie gedug maak. In die lig van Hambidge se groot invloed op digters (soos De Lange en Crous) moet haar bydrae erken word. Die beoordeling van Hambidge se bydrae in Kannemeyer se Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 is windskeef, soos ook ander resensente van hierdie "literatuurgeskiedenis" reeds aangetoon het. In die lig van die bepaalde sosio-kulturele karakter van haar werk is Kannemeyer se plasing van Hambidge onder "Die digkuns van Laat Sestig en Sewentig" boonop 'n ernstige vergissing.

Hoewel Die buigsaamheid van verdriet uiterlik en redaksioneel goed versorg is (sekere onkonsekwenthede soos byvoorbeeld die spelling van "Vigs" en "VIGS" ten spyt), het die algemene afwerking (die buiteblad van geriffelde swaar papier en die roomkleurige papier) 'n ander visuele karakter as al sestien die bundels waaruit hierdie versameling saamgestel is. Ek sou 'n ontwerp verkies met 'n minder "Nederlandse voorkoms" (ten spyte van die titel!) om 'n sterker gesprek met Hambidge se vorige bundels te voer. Maar hierdie mag 'n baie persoonlike voorkeur wees!

Resensent: Johann Lodewyk Marais

Navorsingsgenoot: Eenheid vir Akademiese

Geletterdheid, Universiteit van Pretoria
COPYRIGHT 2005 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2005, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

 Reader Opinion

Title:

Comment:



 

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Title Annotation:Die buigsaamheid van verdriet
Author:Marais, Johann Lodewyk
Publication:Literator
Article Type:Book review
Date:Nov 1, 2005
Words:1498
Previous Article:Echoes of orality in Christian Xhosa songs.
Next Article:Weer eens liefde vit Daniel Hugo.(Saad uit die septer)(Book review)
Topics:



Related Articles
Afstand doen, oudword en verlies van hul angels ontneem.(Book Review)
Digterlike transponering van 'n andersoortige denkwereld.(Shih-Ching Liedereboek)(Book Review)
Is taalsake 'n hulpbron of 'n probleem?(Afrikaans--lewende taal van miljoene)(Book Review)
Plaaslike kennis is vintage Marais: sosiaalpolities betrokke en omgewingsrelevant.(Plaaslike kennis. Gedigte)(Book Review)
Toeganklike lirieke met 'n digterlike aanslag.(Kaalvoet. Liedtekste)(Book Review)
Bliksemlose woorde.(Gebroke sinne)(Book Review)
'n Vermenging van die Khoi-San en die Ooste.(Book review)
Wat word van die meisie wat altyd alleen bly? (1), of, tegnologie van liefde en vergange.(En skielik is dit aand)(Book review)
Komrij se poetiese reikwydte vertaal?(Die elektries gelaaide hand: gedigte. (Vertaal deur Daniel Hugo.))(Book review)
'n Waardevolle naslaanbron oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur.(Book review)

Terms of use | Copyright © 2008 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters | Submit articles