Afstand doen, oudword en verlies van hul angels ontneem.Malan, Lucas. 2002. Afstande. Pretoria : Protea Boekhuis. 52 p. Prys: R79.95. ISBN 1-919825-97-5. In Lucas Malan se bundel Hongergrond (uit 1994) is die digter se oeuvre vir 'n oomblik van die intieme koers-aard daarvan weggelok, maar in Afstande het hy die dwaallig van politieke betrokkenheid herken en teruggekeer tot die persoonlike vers wat hy sy eie gemaak het. Die verse is vol poesie, en hoewel daar net 33 gedigte is, laat dit 'n mens met die gevoel dat jy veel, veel meer gelees het. In hoeverre die getal 33 simbolies gelees moet word, is nie heeltemal seker nie--dit is wel 'n getal wat soms swaar dra aan betekenis binne die Christelike tradisie vir soverre dit verbind word met die lewensjare van Christus en so dui op 'n volbringing, die einde van 'n opgelegde taak. 'n Besef van hierdie aard by 'n digter bring natuurlik 'n berusting: dis nie 'n Dylan Thomas wat "rage rage against the dying of the light" nie. Nee, in die sleutelgedig "8 April 2001" ('n lukrake datum, 'n gewone herfsdag) verklaar die spreker in die slot: Dis herfs. AI minder sal jy jou verknies oor nagelate dinge, die verspeelde tyd. Jy weet mos nou: die grootste sekerheid --deurgaans--was verlies. Die afstande waarvan die titel van die bundel vertel, dui dan ook onder meer op hierdie afstand doen van dinge; ook, uiteindelik, van die lewe self. Terselfdertyd moet dit verwys na die afstande wat tussen mense bestaan, veral tussen lewendes en dooies. En natuurlik: tussen hede en verlede, die hier en die toe. Hierdie verkenning van die verlede (ook die familie waaruit jy stam) oorheers die eerste afdeling met sy 10 gedigte. In "Genepoel" herken die spreker in sy fisiese voorkoms trekke van verskillende familielede, en besef: "Langdurend, en slu is die erflas van Homo karikatuur." Die universele aard van oudword, verlies, die menslike toestand, is reeds in die openingsgedig, "Selfportret", aan die orde gestel. Met verwysing na die laaste twee selfportrette van die skilder Rembrandt, besef die spreker dat al wat hierdie skilderye oordra, is "verdigte verdriet wat na buite staar". En dan, dat hy homself op dieselfde manier in die gedig herskryf. Droewig is hierdie bundel egter nie: dis juis deur die wonder van die gedig, van die verdigting, dat die verdriet rondom verlies verlos word van sy negatiewe kwaliteite. In "Milpark-hospitaal" breek die aanraak van 'n broer se hand, die se van sy naam, die droefenis oop: "In doodse swye versink, sien ek hoe lag my broer"; die inwoner van "Huis Herfsblaar" word deur 'n boek weggevoer: "die rook / van 'n droom slaan op voor jou; 'n geliefde naam / klop aan. Laat in die dag loop julle weer saam." Droewigheid is juis spesifiek nie aan die orde van die dag in die drie "Telkom-gesprek met my ma"-gedigte in die tweede afdeling nie. Gesprekke na die hiernamaals toe is natuurlik nie 'n oorspronklike idee nie, maar ingeklee teen die Iokale en die kleinburgerlike, word die dood inderdaad van sy angel gestroop. Die verlies aan of die verskrikking van die dood word trouens herhaaldelik in die bundel besweer deur die speelse en die ironiese. Op 'n ander manier vind die beswering plaas in die twee literere lykgedigte, "Die swart skip kom" vir Ernst van Heerden, en "Kambro-kind" vir F.A. Venter. In albei gedigte integreer Malan elemente uit die skrywers se werk, wat dan onafwendbaar afstuur op die besef: "die wit fluit kondig aan" en "Tot die laaste donker wind kom ..." Dis interessant dat die digter juis vir hierdie twee "literere" gedigte wegskram van die formele versvorm, want oor die jare het lesers Lucas Malan leer ken as 'n knap tegnies-onderlegde digter. Dit word ook in hierdie bundel bevestig: 19 uit die 33 gedigte is sonnette en 'n tweetal distigons; ander verse is formeel heg en sistematies inmekaar gesit en selfs die langer "vryer" vers is allesbehalwe dit. Die verse is verder goed deurgekomponeer, vol metaforiek, ryk aan teenstellings en ironie, en met sterk klankbindings buite die rym om. Luister byvoorbeeld hoe klink die paar reels uit "Roudiens vir Lourens": Op 'n afstand, stil, het ek dit waargeneem, die stoet sien beur agter 'n loodgrys lykswa aan, so ontsettend kil op pad na die kuil wat na klei en kompos ruik. Dit was dekades gelede wat N.P. van Wyk Louw gevra het of alles nog so mooi sou wees na die dood, en wou eis dat die aarde saam met 'n mens sou sterf. Die lofsang op die lieflikheid van die skepping staan sentraal in die 11 gedigte waaruit die derde afdeling van Afstande bestaan. 'n Mens word reeds daarop voorberei deur die slotreel van "Slegte weer" in die vorige afdeling: "Hoe neem jy afskeid as die aarde so ligtend herlewe?" Die groep gedigte in afdeling drie werk deurgaans met elemente van vervreemding, waardeur die alledaagse ('n vlieg, 'n pampoen, 'n vark, 'n kweper, onder andere) deur die gebruik van die wetenskaplike Latynse naam op 'n afstand geplaas word. In die gedigte kry ons dan 'n beskrywing (oorwegend speels, platvloers sou sommiges se; selfs spuls) wat in die slot 'n korrektief kry, dikwels met 'n Bybelse, metafisiese inslag. Die eerste twee gedigte in die kort laaste afdeling (net 4 gedigte) kan net sowel tuisgebring word onder die voorafgaande groep "natuurgedigte", en bied so 'n natuurlike brug na die slotsom waartoe Afstande kom: die onbenulligheid, en die onbeholpenheid, van die mense binne die groot bestel: "die mens in sy kapsule soos 'n bolletjie drek" ("Blou Maandag"). In die mooi "Kuslangs: groen gedagtes" gee die digter 'n opsomming van die wyse waarop die mens ("die vertikale een, geseen met 'n regterbrein") orals sy spore gelaat het in 'n "groot oorwinning" oor die natuur. Maar in die twee laaste strofes skets die digter egter 'n toekomsbeeld waarin die magte van die natuur "haar moer op 'n dag gaan pluk / en die ganse geknoei met gekapte klip om / gaan keer." Die afsydigheid van die natuur teenoor die lot van die mens word bevestig in die slotvers, "Nagloop". Terwyl onsons graag besig hou met die maan (dit selfs gemoedelik wil toe-eien en vermenslik), bly dit 'n planeet van die aarde, "trek hom die morsige aarde nie aan nie; hou die mens / met sy ontaarding s6 op sy plek. Want hy weet." Afstande is dan, uiteindelik, ook 'n bundel oorwoe gedigte en geweegde vers. Dit is 'n versameling wat getuig van 'n digterskap wat weet wat dit werd is, en wat dit wil wees. Dis 'n bevestiging van die plek wat Lucas Malan in die Afrikaanse poesie inneem, juis deur die afstand wat hy tussen homself en ander digters plaas. Fanie Olivier (Dept. Afrikaans, Universiteit van Venda) |
|
||||||||||||||||||

Printer friendly
Cite/link
Email
Feedback
Reader Opinion