Printer Friendly
The Free Library
4,659,343 articles and books
Member login
User name  
Password 
 
Join us Forgot password?

Affaire: 'n reeks. (Poems).


Affaire: 'n reeks

1  Love is in the air

   Per afspraak
   ek en jy
   in 'n hotelkamer
   ek hou jou dop in die spieel
   jy verwyder eers jou trouring
   dan die horlosie
   bind jou vlashare vas
   jy kyk tersluiks na jou lyf
   jy weet nie ek koekeloer nie
   sien elke merk, litteken op jou lyf
   'n entmerk
   vir ons liefde geen antidoot
   geen kuur
   op afspraak
   per kode (lui die telefoon 1 keer)
   sodat hy nie moet weet
   ons sien mekaar
   in 'n driester hotelkamer nommer 66
   liefde op aanvraag
   per bestelling
   miskien miskien is ons lankal verby die vervaldatum
   van 'ons' (maak liefde net voor nuwejaar)
   jy trek die lakens terug
   ek ruik Mentadent P op jou lippe
   die hartstog tap my af
   o bitter woorde le tussen ons
   oor hom
   die Gideonsbybel waarsku:
   die bragter van slegte tyding se oe word uitgesteek
   verblind deur hartstog soen ons ek glip
   in jou in alle paaie wys na genot
   "Waarmee is ons besig?", vra jy.
   Jou tong in my mond
   'n swaard in haar skede
   stadig trefseker dodelik
   en garde
   ons sterf saam onder die wit lakens
   bibberend van begeerte nogmaals weer
   "Sou hy weet?" wonder ek.
   Wanneer sien ons mekaar weer? wonder jy.
   Jou selfoon lui.
   Ek sien sy naam
   flits soos 'n gewete.

2  Ontmoeting

   Jy praat in 'n kil stem
   ek weet hy luister
   'n vals gesprek, naam
   'n regte plek, alibi
   tydsduur presies
   hora est
   jy laat jou motor in 'n parkeergarage
   om tien voor twaalf tel ek jou op
   net voor die kanonskoot
   ons ry 'n ompad
   my oe in die truspieeltjie op die uitkyk
   vir sy Mercedes 300 E
   ons ry na my plek
   ons loop apart die trappe op
   ek sluit die deur oop maak die vensters oop
   die lakens blakenwit
   jy trek dadelik uit ek skink vir ons 'n drankie
   jou sarong val oop
   "Kom ons dans," versoek jy. "Don't sleep in the subway, darling",
   kweel Pet Clark toe jou sarong afval
   en ek jou nakont
   sien.

3  Een nag

   slaap jy oor
   toe hy op 'n besigheidstrip gaan,
   maar ons beide slaap onrustig
   so asof
   die hele nag
   'n derdemannetjie, 'n pretbederwer
   tussen ons
   waak.

4 Soms

   Soms ontmoet ons mekaar
   "professioneer" in die openbaar.
   Die man met die sonbril in Coll'cacchio's
   waarskynlik 'n speurder. Ons het alibi's:
   ons bespreek 'n kontrak.
   Daar le soveel woorde tussen ons
   wat jy op e-pos uitwis.
   Ek behou alles. Versamel elke uiting
   Vir al die aande alleen
   wanneer jy sy woorde aftel
   om agter die kap van sy byl te kom:
   vermoed Meneer dat Mevrou
   besig is om te slaap by 'n ander Vrou?
   Of dink Meneer steeds dat Mevrou
   net van hom en sy status hou?

5  Ander kere

   laat jy onverwags weet:
   vanaand is onmoontlik. Of gaste
   uit 'n ander stad le besoek af oor Kersfees
   en Nuwejaar. Dan wag ek soos 'n bedelaar
   op 'n boodskap, 'n sein, 'n oproep.

   Party kere raak jy bang. "Hy sal nie skroom
   om 'n speurder aan te stel ... of 'n prokureur."
   Of miskien is jy eerder houtgerus
   besig om die plaat aan beide kante te speel.

   En ek? Is ek toegerus
   vir die ewige, aanhoudende, durende wag?

6  Iteratief-duratief

   Jy bel vroegoggend
   die klokhelder in jou stem.
   "Geluk met jou verjaarsdag."
   Te bang om te vra of ek jou vandag sal sien
   tussen familieverpligtinge en -vieringe deur.
   Ek wag. Op die foon,
   voordeurklok ...

   Jou foon lui beset, twee keer klink jou stem
   formeel op die antwoordmasjien.
   Ek laat geen boodskap. Trek die blindings toe
   vir 'n siesta. Dink hoe jy gister beloof
   het jy sal wegvlug ...

   In helder droom sit ek aan jou verjaarsdagtafel.
   Jy laat na om my te voed. In die badkamer
   stort water uit die muur. Jy draai die kraan toe.
   Ek verlaat die besige huishouding sonder om jou
   te groet. Jy hardloop agter my aan: roep woedend
   na my.

   Toe ek wakkerskrik
   Is daar geen boodskap, sms of e-pos.
   Ek vier die einde van ons verhouding
   met jou verjaarsdagsjampanje.
   En leer die wag af.
   Alleen. Soos dit 'n geleentheidslover
   betaam.

7  Die trane die roi oor jou bokkie

   Uiteindelik praat ons.
   "Wat het jy vandag gedoen?"
   Gewag gemaak van jou.
   Soos 'n wagter op die toring.
   Wagtend, wagtend.
   "Geskryf ... dag jy kon wegvlug? ..."
   "Onmoontlik ... maar dit was aaklig
   om sonder jou die dag te vier."
   "Maar jy het beloof?"
   "Nee, ek het nie."
   "Jy het."
   Verstaan skielik die droom
   van water wat teen die muur afstort:
   verbyster oor daar
   soveel trane te stort is
   oor lemand wat jou vooraf waarsku:
   "Ons mag hieroor nooit treur nie;
   ons het lief op geleende tyd."
   Maar soos gewoonlik het ek die fyndruk
   van die kontrak verkeerd gelees.

8  Onthou, jy mag nooit oor ons skryf nie

   Want jou man sal vermoed
   en jy mag dalk verder verhoed
   dat ek voyeur-voyeur speel
   en woorde uit jou mond steel.

9  Love on the rocks

   So keer ons weg van mekaar
   twee geliefdes
   twee minnaresse
   twee ekse nou
   eens 'n item
   eens saam.

   Toe breek ons verhouding
   soos 'n skip oor 'n rots
   nee, eintlik meer
   opsienbarend
   dramaties
   onverwags
   onherroepelik
   soos 'n gesloopte gebou
   wat insak op sy struktuur

   toe hy jou e-posse lees
   my nommer op jou sel ontdek
   en verdomp - as toegif- 'n rekening
   vir whisky-on-the-rocks in jou handsak
   uitsnuffel
   soos 'n bloedhond.

10 Sliding doors

   Ons lewe apart van mekaar,
   slaap apart,
   kla by terapeute apart,
   ly apart.

   Tog voel ek jou steeds aan.
   Is die deur nie gesluit nie.
   Laasnag lui my voordeurklok,
   maar ek antwoord nie die deur nie.

   Deur hoeveel onthoue
   moet ek gaan om te vergeet?
   Ek hoor die windklokke
   van ons verlies eentonig, eentonig lui ...

   'n Spirituele raadgewer lui 'n Tibetaanse klok
   oor my lyf om die energie-velde te herstel,
   die chakras oop te sluit. Die twaalfuur-kanon
   slaan dawerend en luid: ek tel 'n glasskoentjie op.

11 Om 'n sinkende skip agter te laat

   'n Skip
   soos 'n verhouding
   sink selde sonder waarskuwing.
   Oor die Titanic
   verneem ons hoe die ysberge
   gevaarlik uittroon. En die kaptein
   volhou alles is onder beheer.
   Totdat water in die buik
   insypel: alles onder druk plaas.
   Om dekstoele op die Titanic rond te skuif.
   So was dit met ons. Lank voor my vertrek,
   om die sinkende skip blou te verf,
   kon ons snags nie slaap nie. My drome
   soos my gedigte stuur S.O.S.e.
   Die laaste ure glo was daar paniek.
   Rangordes uitgewerk oor wie eerste
   moet vertrek. Party het verdrink,
   ander verkluim in die yswater.
   "Nader my God tot U". 'n Gedig
   is soos 'n sinkende skip. Dit Ie
   soos die Titanic in die onbewuste.
   Geberg tussen rommel, geroeste material
   en vele stiekem afsprake ...
   Veral die gedigte soos ysberge.
   Ons verhouding kon nooit sink nie.
   Daarom was daar te min reddingsbote
   aan boord. Hierom staan ons beide
   ontnugter, verontrus, onkant betrap
   oor ons verhouding op haar nooiensvaart
   spektakuler en pynlik
   op die rotse is. 'n Liefde verby voor dit
   eintlik afgeloop is. So 'n liefde vergeet jy nooit.

   Jy verklaar dit tot besienswaardigheid.
   'n Liefde op geleende tyd. Bedryf in gesteelde ure.
   Onverpoosd soek jy na juwele onderwaters.
   "You never finish a poem;
   you just abandon it." 'n Skip is 'n verhouding
   sinkend
COPYRIGHT 2003 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2003, Gale Group. All rights reserved. Gale Group is a Thomson Corporation Company.

 Reader Opinion

Title:

Comment:



 

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Hambidge, Joan
Publication:Literator
Article Type:Poem
Date:Apr 1, 2003
Words:1203
Previous Article:laatnag in 'n koue stad. (Poems).(Brief Article)(Poem)
Next Article:On days when not even poetry was enough. (Poems).(Brief Article)(Poem)



Related Articles
The Poems and Translations of Sir Richard Fanshawe: Volume 2.(Review)(Brief Article)
Hello School!: A Classroom Full of Poems. (Judy Freeman's Booktalk: Back-to-School Books).(Brief Article)
Poetry workshop: the poetry suitcase.(education)(Brief Article)
Imagination stretching. (Poetry Workshop).(ideas for teaching poetry)
Say thanks with a poem. (Poetry Workshop).(Brief Article)
Beyond the Frontier: African-American Poetry for the 21st Century.(Book Review)(Brief Article)
Super-duper synonyms. (Poetry Workshop).
Poetry journals: making poetry scrapbooks allows students to enjoy their work for years to come as they publish their own poems, reflect on inspiring...
Favorite Poem Project. (Powerful and Playfull Poetry).(Brief Article)
The 100 best love poems. (Poetry).(Book Review)(Young Adult Review)(Brief Article)

Terms of use | Copyright © 2008 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters | Submit articles