Printer Friendly
The Free Library
19,564,061 articles and books
Member login
User name  
Password 
 
Join us Forgot password?

"So-hede wat die tong uit die mond jaag agter benoeming aan, elke keer weer, tot in ewigheid": Marlene van Niekerk oor haar skryfwerk.


Willie Burger: Milan Kundera is liefdaarvoor om te skryf, n.a.v. Bloeh, dat die roman moet ontdek wat slegs die roman kan ontdek. Die roman moet dus volgens hierdie beskouing nie 'n ondersoek van idees wees op dieselfde manier as filosofie nie. Jy kon die keuse maak oto 'n D in filosofie te skryf of 'n roman. Jy het (dankie tog!) die roman gekies. Wat dink jy kan jy deur die roman doen wat jy nie met filosofie sou kon doen nie?

Marlene van Niekerk: In die eerste plek dink ek dat ek die skryf van 'n roman bo die skryf van filosofie kies omdat ek myself beter kan verras daarmee. Ek wil verras word. Die filosofietjies wat bokant Triomfhang, net soos die psigologietjies wat bokant Agaat hang is geblaas soos ou gloeilampies. As ek hierdie ideetjies in die instrumentele taal van die filosofie of die diskoers van psigologie sou moes opskryf, sou almal gaap en weggaan en se: Ag nee wat, kom ons vier die nag, kom ons steek kerse op en bedryf die liefde. Fiksielesers hou van die nag. Gelukkig is daar filosowe soos Cioran en Kierkegaard (+"diacritics") wat nagfilosfie skryf. Wat die pret, en soms verrukking, en soms iets soos "geluk" verskaf vir my as skrywer is om konkretiserings en dramatiserings van idees te versin en hulle dan half toeoe agter my eie rug in werking te probeer stel, "weird" klein masjientjies wat huile eie sout maal. Die konkretiserings (soos die Benades se huis wat raas en blaas en uitmekaarval in Triomf) en dramatiserings (soos die toneel waar Lambert die Superbee skilder) moet nie alleen die sogenaamde idees beliggaam nie, maar moet ook die karakterontwikkeling en die handelingsverloop en die ruimtebeelding "dien". Sodra hierdie meganismes van konkretisering en dramatisering so verselfstandig begin raak dat ekself in HULLE diens moet tree, dus agter HULLE begin aanskryf om te sien wat volgende gaan gebeur, dan is ek myns insiens op die regte spoor. Nie dat 'n mens nie uiteindelik moet kies tussen verskillende moontlikhede wat sigself aanbied tydens die skryf nie. So daar is 'n formele struktureringswerk wat moet plaasvind wat mens met die "kliewende dagbewussyn" moet doen. Ek is dikwels as ek skryf bewus daarvan dat ek in die verskillende ritmes en teksture van die dag en die nag meedein, of miskien verbeel ek my dit maar in 'n aanval van grandiositeit! Maar dis 'n troostende gedagte, die daglewe is die uitputtingslag, die nag is die tyd om jou in die afgronde te verdool. Soos in daardie lied van Brahms: "Uber mein Bett erhebt sich ein Baum"; die boom waarin, by ons weliswaar nie die nagtegale nie, maar die tarentale, die dolle tarentale, deurnag louter liefde roep!

Alles wat ek hierbo gese het is erg moeisaam geformuleer; regte filosowe sal dit veel meer gesofistikeerd kan uitdruk, want hierdie is ook glad nie nuwe idees oor die skryfproses nie. Ek voel altyd dat ek die verkeerde woorde kies as ek begin verduidelik wat ek doen as ek skryf. Ek, as kommentator op my skrywende self, weet nie ailes wat ek doen as ek daar in die warmplek van die skryf self verkeer nie. As ek hier antwoorde gee op jou vrae is ek nie op dieselfde plek skrywer nie as wanneer ek in die nag "gejaagd worden en als wolven jagen/achter de taal aan de tong uit de mond/... nergens wonen verdwaasd bivakkeren/tussen klanken van nachtelijke oorsprong" (Hans An&eus). Ek probeer trouens so hard as wat ek kan om dan nie alles te weet wat ek doen nie. Ek moedig myself aan om my sogenaamde idees roekeloos in die vuur en in die vloed van taal te gooi en agter hulle aan te spring. Ek gooi die vensters oop vir die bedwelming van die seringe in Oktober, ek speel musiek totdat ek in 'n soort beswyming kom, ek assosieer so vry as wat ek kan. Mens moet so half jou eie sjamaan word om in kontak te kom met die wolwe van Andreus. (Natuurlik moet jy dan soggens met jou redigeerstok die hare en die kwyldruppels en die gehuil na die maan bietjie dresseer.) Skrywers wat alles wil weet (of dink dat huile alles weet) wat hulle doen, is dominees of propagandiste en huile idees staan vierkant in die wei soos koeie van porselein. Gelukkig red die taal mens van beterweterigheid en porseleine koeiagtigheid. Mens moet die taal in sy materialiteit in vloed probeer kry as mens skryf; in vloed of in klippe of in wind of in vuur. Daar is verskillende style om die materialiteit van taal op te voer (te "stage", te "perform") in 'n teks. Die punt is dat die soort skrywery wat my plesier gee die soort is wat my medium, die Afrikaanse taal self, wat ek uit sy bloot funksionele dagpak probeer kry en vars probeer opmaak, die hele tyd tot vlak by die voetligte druk sodat die leser verlei word deur die skouspel maar terselfdertyd bewus bly van die "make-up".

WB: Agaat is 'n roman waain die taalgebruik opvallend sentraal staan. Dit is asof jy in hierdie roman, soos wat Ingrid Winterbach ook op 'n manier doen in Die boek van toeval en toeverlaat, doelbewus probeer om die grense van die taal te verskuif- om die "funksionele dagpak" uit te trek. Jy bedien jou van baie argaiese woorde, van ongebruikte en mingebruikte woorde. Andries Visagie het al by geleentheid geskryf van die "bloedarmoedige taal" van baie van die jonger skrywers. Wat sou vir jou die motivering wees vir hierdie doelbewuste verruiming van die Afrikaanse woordeskat?

MvN: Die helfte van die antwoord op bogenoemde vraag staan reeds in Antwoord 1.

Ek dink die belangrikste rede vir die invoer van ongewone woorde is die bevoorgronding van die medium; in Agaat is dit argaiese woorde en onbekende boerderyterminologie, in Triomf is dit gruwelike vloekwoorde en vuige Benade-taal. Dit gaan oor die sigbaarmaking van taal as opsetlik gekonstrueerd. In Memorandum probeer ek eerder as deur taal-"verryking" (soos in Agaat) of as deur taal-"vervuiling" (soos in Triomf) die medium bevoorgrond deur 'n soort taal-"verdunning", as Wiid aan die woord is, ten minste aanvanklik. (Maar hom maak ek ook al weer ten einde laaste dronk met Allesverloren sodat hy liries kan uitswaai in sy Passacaglia!)

Miskien is ek tog meer geneig tot die vetvoer eerder as die uithonger van taal, hoewel ek die effek van laasgenoemde ten seerste bewonder in byvoorbeeld die werk van Vladislavic en Coetzee en huile meesters Kafka en Beckett. Miskien het die "vetmaak" van taal by my, met die gepaardgaande gevare van te mooi en te fraai en te popelend skryf, te doen met 'n skoot romantiek wat ek nou maar eenmaal sleg deur het. Ek is reddeloos geinteresseerd in "ekspressie", al is ek maar te deeglik bewus daarvan dat aan die nosie van "ekspressiwiteit" onder andere die ongeleerde voorveronderstelling kleef dat daar 'n "werklikheid" en 'n "teenwoordigheid" is, van 'n "siel" of van die "siel" van 'n mier of van 'n boom, 'n essensiele realiteit wat meer of minder "trefseker" "uitgedruk" kan word. So 'n voorveronderstelling lyk of dit reelreg in teenstelling staan tot die nosie van die "onverskillige" materialiteit van taal, en die gepaardgaande losgekoppeldheid van betekenaar en betekende. Maar miskien kan mens 'n soort "versoening" voorstel, wat my nou hier inval terwyl ek skryf, so let wel, dis 'n onverteerde idee. Die neksus tussen die talige "ekspressie" van 'n "werklikheid" en die losjaag van taal as 'n selfstandige materialiteit, le miskien in die praktyke van die skrywer wat by wyse van spreke sjamanisties genoem kan word. Is sjamaans nie figure wat "vreemde taal/musiek" losspook ten einde dinge en diere en geeste te verlei om "uit hulleself te tree" en te "verskyn" nie? Of kortstondig in die sjamaan te inkameer sodat hy hom, in plaas van in sy eie taal, in hfllle taal kan "uitdruk" nie? Wat Stockenstrfm sal noem "flet-en ruigtetaal"? Ek bedoel: watter menslike gewaarwording is dit dink jy wat aan die oorsprong le van die idee van 'n god soos Orpheus?

Die uiteinde van die saak is dat wat my betref dit die onreduseerbare misterie is van wolk en die klip en die witliesbontrokkie; dit is hierdie onpeilbare so-hede wat die tong uit die mond jaag agter benoeming aan, elke keer weer, tot in ewigheid. En dit is uiteindelik die verlange om 'n mens se eie begrensing en faktisiteit te ontstyg en deel te neem (sjamanisties te partisipeer) aan hierdie ander wesens wat myns insiens die skrywers en digters moveer om so raar te doen met woorde. Diegene met goeie maniere weet egter hoe om hulle werk so te maak dat dit sigself ook ontmaak en wel omdat dit onmoontlik is om die "werklikheid" behalwe in die kortstondige sweem van 'n lied te "vang". Mens kan nie die dinge he (vashou in die oog, in die hand) en huile skryf tegelyk nie, daarom moet jy altyd jou lied afmaai soos hy uitkom. Die lied vang nie die voel nie! En daarom moet die lied ook die onvermoe om die voel te vang erken en die verlange om dit wel te doen verwoord, en uiteindelik die verlange self vier en in stand hou as 'n menslike vermoe, as die menslike moontlikheid van 'n weerlose en verootmoedigde oopstaan na die oormag en meerwaarde van die sosyn van die dinge. Nog verder wat betref die sjamane=beeld: ONDER die sogenaamde "skoot romantiek" en al die aangeleesde teoriee dink ek, sit daar by my 'n kindertydse bloudruk, van die (verbeelde) naderfluit van piet-my-vroue en die weerkaatsing wat jy van jouself sien in die oog van die waterbok voordat sy wegskrik tussen die takke. Ek dink nie skrywers kan ontkom aan die ontwerp van huile kindertyd nie; ek onthou myne as 'n tyd van diepe vereenselwiging met en betowering deur natuurdinge.

WB: Jy het al by geleentheid jou bewondering uitgespreek vir 'n skrywer soos W.G. Sebald. Sy werk word onder meer gekenmerk deur 'n soort niefiksie-aanslag. Dikwels word die moontlikhede van narratiewe om sin te gee, om saam te vat, ondermyn. Jou werk word egter gekenmerk deur sterk verhaal. Agaat is 'n lang roman, maar spanning word behou, dit bly moontlik om dit bloot op 'n storie af te geniet. Hoe belangrik is "storie" vir jou?

MvN: Ek dink ek probeer dalk te veel, ek probeer stories skryf wat hulleself terselfdertyd losdraai van die liniere chronologie en die vaste beginne en eindes wat stories kenmerk. Wat ek wil doen, en nog glad nie goed regkry nie, is om die leser te verlei met die allure van storie (net soos wat 'n skilder dit sou doen met die konvensies van realisme of 'n komponis met die konvensie min of meer voorspelbare melodie) net om hom, die leser of hoorder of kyker, as hy eenkeer goed gestrik is in iets wat hy vertroud aanvoel, te frustreer en in 'n baan te sit vol terugvouings en vlakverskuiwings en veral 'n slot wat vasgedraai is in die bek van die begin sodat hy nooit uit die labirint kan loskom nie. Hy moet dink hy lees 'n storie terwyl hy eintlik besig is met iets anders, met 'n soort ontdekking van ongekaarte moontlikhede van die self in taal. Dit is wat ek probeer doen as ek skryf, ten minste. Anders sal dit tog te vervelig wees vir woorde!

Die eksperimentering met die ontmaking van begin en einde gaan die verste in Memorandum, en dit gee my groot plesier dat ek, volgens reaksies van lesers, skynbaar daarin geslaag het om dit weg te steek. Memorandum frustreer ook op ander maniere die liniere leesstrategie waarmee konvensionele stories aangepak word, naamlik deur die voetnote en die skilderye wat in 'n kontrapunt met die teks 'n heen-en-weerblaaiery veroorsaak. Waarom wil mens he dat die bladsye teendraads geblaai moet word en die oog aanhou verspring om die leser te herinner daaraan dat hy homself in 'n gekonstrueerde ruimte bevind? Nie dat 'n mens hom nie 'n paar belofteryke openingsmate moet gun en 'n kammakadens as hy op die laaste bladsy kom sodat hy die gevoel kan kry dat hy iets "voltooi" het nie! Soete marteling moet dit wees soos die doelbewuste (self)ontsegging van alle vervulling soete marteling is. Uiteindelik moet die kunswerk dus funksioneer soos 'n erotiese spel van tergende onthouding en uitstel. Dit is in ieder geval wat ekself wil he as ek lees: 'n Weiering van sluiting, of dan wel sluiting maar altyd teen die horison van die vitale ekses van Andersheid wat steeds uitgesluit word op die moment as die ingeslotene afgesluit word.

Ek dink dit is die invloed van Sebald wat begin deurspeel in Memorandum. Ek het ook onlangs 'n studie gemaak van die werk van Ivan Vladislavic wat my by elke herlees erg beindruk. Mens sou vir elke stad en dorp in hierdie land moes doen wat hy vir Johannesburg doen in Portrait with Keys. Ek hoop hierdie boek gee volgelinge af. Dikwels dink ek dat dit inderdaad die eintlike werk is van skrywers in hierdie land: om in plaas van verhale te versin, 'n rekord na te laat van hoe dinge is, met daarin verbeelding, vereenselwiging, maakbaarheid/moontlikheid/andersheid en die gedenking van verlies vasgehou as etiese dimensies. Die etiese dimensie het altyd te make met 'n belydenis en demonstrasie van die beperktheid van onder andere skrywerlike "mag". Deesdae speel daar nog 'n verdere vraag in my gemoed: naamlik of daar nie in die verlengde van die versigtige en fyngekalibreerde "rapportage" van die intiem beleefde werklikheid hier te lande, soos in die werk van Vladislavic, nog 'n ander taak is nie. Wat ek my afvra kan maklik misverstaan word, ook in die lig van my eie verjaarde opvattings van ideologiekritiek en maatskappykritiek as skrywerlike "verantwoordelikheid", maar hier kom dit: of daar nie maar een enkele vorm van subversiwiteit oorgebly het in 'n omgewing van sistematiese brutalisering en vervlakking van die gevoelslewe en van die gedrag en die verhoudings tussen die mense in ons vaderland nie, en dit is om "skoonheid" te gedenk en te kultiveer nie, of dan liewer, om "portrette" daar te stel van die mens wat vemtk en treurend staan voor die skone en raaiselagtige dinge wat hy nie self gemaak het nie, wat verbysterd en oorstem staan voor die dinge wat hy wel self aangerig het. Ek voel dikwels as ek die koerante oopslaan dat die maatskaplike geskiedenisse wat sigself hier ontrol die "verbale" wat ek daaroor sou kon versin een oor is. Miskien sou die "skryfloms" onder sulke omstandighede eerder moet probeer oorleef in die liriese poesie? Of dink jy dit is 'n "cop-out"?! Of anders is die groot roman wat geskryf moet word die een oor 'n figuur soos Jeremy Cronin.

Willie Burger

Departement Afrikaans, Universiteit van Johannesburg

willieb@uj.ac.za
COPYRIGHT 2009 Literator Society of South Africa
No portion of this article can be reproduced without the express written permission from the copyright holder.
Copyright 2009 Gale, Cengage Learning. All rights reserved.

 Reader Opinion

Title:

Comment:



 

Article Details
Printer friendly Cite/link Email Feedback
Author:Burger, Willie
Publication:Journal of Literary Studies
Article Type:Interview
Geographic Code:6SOUT
Date:Sep 1, 2009
Words:2458
Previous Article:Intimate enemies: a discussion with Marlene van Niekerk and Michiel Heyns about Agaat and its translation into English.
Next Article:Introduction: fractured experiences and porous narratives.
Topics:



Related Articles
Affaire: 'n reeks. (Poems).
"Tintelend oningekring": Elisabeth Eybers: 26 Februarie 1915--1 Desember 2007.
Die windvanger. (Resensie-artikel).
Chinchilla.
Humor in Afrikaans.
Nag op 'n kaal plein.
Die dag toe ek my hare losgemaak het.
Inleiding: "Om kommunikasie op gang te kry": die begin en einde van Marlene van Niekerk se oeuvre.
'n "Paradise Lost": 'n Ondersoek na swart arbeid en wit ongemak in stedelike Suid-Afrika: Marlene van Niekerk se kortverhaal "Klein vingeroefening...
Die laaste sewe dae in Mei 2007: (weergawe).(Kortverhale)

Terms of use | Copyright © 2012 Farlex, Inc. | Feedback | For webmasters | Submit articles